Wat ek doen...

Met aanmoediging het ek hierdie blog begin. Vir julle en vir myself. Living Lize gaan oor my ervarings, nuwe wyshede en 'n stoorplek vir al my foto's. Dis interaktief so voel vry om kommentaar te lewer. Die blog sal verander soos die tyd verbygaan, maar vir nou is daar 'n paar stories, gedagtes en ek wil 'n waardevolle moederlysie vir myself maak - en vir die ander dames. Hardloop maar daardeur en vergewe my as ek te veel of te min sê. Ek sal nogsteeds persoonlike boodskappe stuur, maar Living Lize is nou offisieël my BLOG.

dinsdag, mei 01, 2007

Koniginne dag


Miljoene mense skryf seker vandag oor hulle Koniginnedag ervarings. Dit was wild, groot, chaoties en werlik iets wat ek nie verwag het nie. Almal het gesê Koniginne dag is groot en jy sien net oranje ooral, maar om dit te beleef was iets besonders. Nederland draai op haar kop op 30 April. Vanaf die vorige nag is daar grootskaalse partytjies aan die gang. Ek was die aand in Utrecht. Op elke plein is daar ‘n partytjie. Die plein het ‘n verhoog, goeie beligting, vele bierstalletjies en hordes mense. Nee, ek bedoel HORDES. Dit was fantasties om goeie dansmusiek te hoor reflekteer teen ou geboue. En die massas dans! Die grootste party was in die Domplein (ja, die Utrechtse kerkplein). So verbeel julle groot kerktorings wat tril op woeste ‘drum and bass’. Fenominaal. Ons het gedans en gedans en toe die meisie agter my op my romp opgooi, toe besef ek dis tyd om te gaan.

Maar die partytjie het voortgegaan tot in Koniginnedag in. Ons is die oggend Amsterdam toe. Ons het oranje naels, oranje pette, krone en allerande ander snaakse versierings. Die treine is vol oranje mense en die strate in Amsterdam wemel. Daar is verkeersknope in die grachte, daar is mensknope op elke straat, maar die musiek dreun en almal gaan te kere. Ons kom uiteindelik by Museumplein uit en daar is die hele grasperk (so 3 rugbyvelde) vol mense. Daar is elke 15min ‘n nuwe gaskunstenaar. Ons was ‘n paar mense wat gegaan het en het mekaar konstant verloor. Gelukkig het Dominique ‘n oranje roos gehad, wat sy in die lug gehou het sodat ons dit oor die massas kan sien. ‘Volg die roos’. Behalwe vir die parties is Koniginne dag ook ‘n vrymarkdag, waar mense al 6uur die oggend hulle stalletjies opsit. Jy moet jou plekkie al vroeg afbaken. Almal verkoop hulle ‘spulle’ (goeters). In Vondelpark het paar kinders ook musiek gemaak, of speletjies laat speel. Daar was selfs ‘n vrou wat cocktails vir jou kon maak. Die oulikste verskynsel vir my is mense wat ‘Free huggs’ uitdeel. Te oulik.

Ek kan bladsye hieroor skryf, maar ek dink foto’s verduidelik dit die beste.
Maak ‘n plan om volgende jaar hier te wees vir koniginne dag.

Geen opmerkingen: