Wat ek doen...

Met aanmoediging het ek hierdie blog begin. Vir julle en vir myself. Living Lize gaan oor my ervarings, nuwe wyshede en 'n stoorplek vir al my foto's. Dis interaktief so voel vry om kommentaar te lewer. Die blog sal verander soos die tyd verbygaan, maar vir nou is daar 'n paar stories, gedagtes en ek wil 'n waardevolle moederlysie vir myself maak - en vir die ander dames. Hardloop maar daardeur en vergewe my as ek te veel of te min sê. Ek sal nogsteeds persoonlike boodskappe stuur, maar Living Lize is nou offisieël my BLOG.

dinsdag, april 03, 2007

Leiden


Daar is ooral bloeisels en in die aand voel jy die vreugde in die skemerskakerings. Die dae is soos in die Kaap - koue briesie en bloue lug. Dit voel asof iemand nounet jou lense skoongemaak het.

Ek het soos 'n konyn in Leiden rondgespring. Ons is met 'n kanaalboot deur die stad en soos julle kan sien kry ek nie genoeg van boothuise, Nederlandse boustyl en brue nie. Die stad wemel met mense en die Nederlanders plak hulself lui in die sonkafees. Die populêrste plekkie is Annie se verjaardag - jip jy het reg gelees.


Die Universiteit van Leiden is hier sentraal.Ook is Rembrandt hier gebore, so jy sien gereeld groot skilderye op geboue. Die Nederlandse studente lyk almal 5 jaar ouer as ons. Langer, stylvoller, meer selfvertroue en verseker meer beweeglik. Ons was die hele dag in botsings met fietse. Ek het ook 'n vinnige visioen van my droomlewe gehad toe ek 'n geparkeerde alpha langs die gracht voor 'n regop huise sien staan.


Leiden is maar 'n stad wat deur studente beheer word. Die eetplekke is almal goedkoper, daar is vlooimarkte, leë kerkpleine en ook 'n man met 'n Springbok rugbytrui. Tussen die gewemel, staan daar pragtige stadsmerke, soos die mooi wit rusbankies onder 'n massiewe boom, of die botaniese tuin langs die kanaal. Leiden is soos Potch sonder die stofstrate en akkerbome en met 'n Europese flair.

3 opmerkingen:

Hessel zei

Lyk awesome daarso.

Ek het spesiaal 'n video oor Gamers gemaak vir jou wat jy kan uitcheck op my blog.

http://superlives.blogspot.com

Cheers

Retha zei

Lize, jy neem die mooiste foto's!! Dankie vir jou email. Jammer ek skryf so min. Hoop jy bly darem op hoogte deur middel van my blog? Liefde en voorspoed... Retha

Elmarie zei

Daardie karretjie moet maar mooi staan op die kanaal.Toe ek in Amsterdam was het ek gesien wat hulle alles daar onder die diepe waters kan uithaal - onder andere 'n paar vierwiel nommertjies.Geniet, Hessel se Elmarie